About

About

Die storie agter StimSmart

Want die klein oomblikke word die groot herinneringe.

Van my kosbaarste kinderherinneringe het niks met duur speelgoed, deftige uitstappies of ingewikkelde planne te doen nie.

Dit het gebeur op ’n grasperk, om ’n tafel, tydens ’n vakansie by die see, of terwyl ons saam waatlemoen geëet het.

Ek onthou hoe my pa saam met ons en die kinders in ons straat krieket op die grasperk langs die huis gespeel het. Ek onthou vakansies vol kaarte en dobbelstene, speletjies soos Yam, Donkie en Scrabble, en maats wat by ons kom kuier het bloot omdat hulle saam met ons wou speel.

Ons het ook ure en ure lank vingerbord gespeel. En as die bord nie lekker glad was nie, het ons dit met Mr Min gepolish totdat die skyfies lekker kon gly. Dit was deel van die pret!

My ma was net so deel van hierdie herinneringe. Sy het saam gespeel, gesorg dat daar altyd iets lekkers is om te eet en daardie klein oomblikke spesiaal gemaak.

Selfs waatlemoen eet kon ’n speletjie word. Ma het die skywe so gesny dat dit soos krone gelyk het, en dan het ons omkyk gespeel. Die eerste kroon was gewoonlik die een met die meeste wit en die minste smaak. As jy iemand kon kry om om te kyk, moes daardie persoon die omkyk eet!

En wanneer ons klaar geëet het, het Pa die pitte in sy bord begin tel. Dan moes almal raai hoeveel pitte daar was.

Daar was altyd ’n speletjie, ’n bietjie kompetisie, ’n grappie of iets lekkers om te deel.

Selfs Scrabble het sy eie reëls gehad!

Een van my gunstelingherinneringe is van Pa wat Scrabble saam met my tannie, Ma se suster, gespeel het.

Pa het die woord “boklippe” neergelê. My tannie wou weet waar hy aan so ’n woord kom — daar bestaan mos nie so ’n woord nie!

Pa se antwoord?

Natuurlik bestaan dit. ’n Bok het lippe. Dis boklippe!

En natuurlik het hy die game gewen.

Dis die soort storie wat jy jare later nog vertel. Nie omdat iemand die amptelike Scrabble-woordeboek gewen het nie, maar omdat die oomblik self goud werd was.

’n Huis vol stories

Boeke was ook ’n belangrike deel van my kinderdae.

My ma het ’n liefde vir lees by ons gekweek. Pa het ook graag gelees, maar sy leesstof was hoofsaaklik cowboyboekies.

My broer is vier en ’n half jaar ouer as ek en kon reeds op drie lees. Dit het beteken dat ek my eie persoonlike storievoorleser gehad het!

My gunstelingboek was Trane. Ek kan nie meer die hele storie onthou nie, maar dit het gegaan oor ’n towenaar wat mense laat huil het totdat hulle trane ’n vloed veroorsaak het.

Ek was so lief vir daardie boek dat my broer dit oor en oor vir my moes lees. Uiteindelik het hy natuurlik gatvol geraak, en dan moes ek hom omkoop om nóg ’n keer te lees!

Ek onthou nie meer al die besonderhede van die storie nie, maar ek onthou hoe graag ek dit wou hoor.

As ek nou terugkyk, besef ek dat my kinderdae vol geleenthede was om te verbeel, te ontdek, te skep en saam te wees. Soms het dit deur ’n boek gebeur, soms deur ’n speletjie en soms deur iets so eenvoudig soos ’n waatlemoen en ’n bord vol pitte.

My pa is in 2011 oorlede, maar hierdie is van die herinneringe wat ek die kosbaarste bewaar. Dit herinner my daaraan dat die dinge wat ons die diepste bybly, dikwels die eenvoudigste is.

Dit het nie gegaan oor meer dinge hê nie. Dit het gegaan oor dinge saam doen.

Waarom ek StimSmart begin het

Vandag wonder ek soms of ons nie besig is om te vergeet hoe om te speel nie.

Die lewe is besig. Ouers het eindelose verantwoordelikhede, kinders het soveel dinge wat om hul aandag meeding, en dit voel soms moeiliker as wat dit behoort te wees om net rustig saam iets te doen.

Ons het nie altyd nóg ’n ingewikkelde aktiwiteit, nóg ’n duur speelding of nóg ’n skerm nodig om ons besig te hou nie.

Soms het ons net ’n bietjie inspirasie nodig.

Dit is waarom ek StimSmart begin het.

Ek wil graag hulpmiddels skep wat kinders en ouers aanmoedig om stadiger te raak, kreatief te wees, nuwe dinge te ontdek en dit te geniet om saam dinge te doen.

Idees wat nuuskierigheid prikkel, verbeelding aanwakker en ’n gewone middag in ’n kosbare herinnering kan verander.

Meer as net produkte

By StimSmart is die aktiwiteit net ’n deel van die storie.

Dit gaan oor die kind wat iets nuuts ontdek. Die ouer wat nie net van die kantlyn af kyk nie, maar saam deelneem. Die gelag wanneer iemand verkeerd raai. Die opgewondenheid wanneer iets uiteindelik regkom. Die stories wat vertel word, die speletjies wat gespeel word en die klein tradisies wat familiegrafies en kosbare herinneringe word.

Ons kreatiewe aktiwiteite, aktiwiteitsboekies en speelse hulpmiddels is daar om ontdekking, verbeelding en verbondenheid aan te moedig.

Nie elke oomblik hoef ’n les te wees nie. Nie elke aktiwiteit hoef perfek te verloop nie.

Soms is dit genoeg om net saam te speel.

My droom vir StimSmart

My hoop is dat StimSmart gesinne sal herinner dat kosbare oomblikke nie duur, ingewikkeld of perfek beplan hoef te wees nie.

Dit kan begin met ’n paar dobbelstene, ’n pak kaarte, ’n potlood en ’n stuk papier, ’n lekker storie of ’n eenvoudige idee waarby almal kan inskakel.

Want eendag word ons kinders groot. Dan is dit dalk juis die klein dingetjies wat ons saam gedoen het wat hulle die langste sal onthou.

Ek weet dit is wat met my gebeur het.

StimSmart is my manier om gesinne te help om nog ’n paar van daardie oomblikke te skep.

’n Bietjie meer speel. ’n Bietjie meer saamwees. ’n Bietjie meer verbeelding.

En hopelik ’n hele klomp herinneringe.

Welkom by StimSmart.

Kom ons maak weer plek vir speel.

0 Item | R0,00
View Cart